Wees getrou en gehoorsaam
Eksodus 12:23
Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie.
Na nege rampe wat die land tref, is Farao se hart steeds hard. Hy wil nie na God luister nie. Hy wil eenvoudig nie ingee en die volk die groen lig gee om te trek nie. Hierdie onwilligheid om na God te luister kom hom baie duur te staan.
Aan die een kant gee hierdie storie van bloed aan die deurkosyne en die dood wat rondsluip vir my rillings teen die rug af. Dis amper soos ʼn riller fliek wat ʼn mens op die punt van jou stoel laat sit.
Tog was dit nodig om die bloed aan die deurkosyne te smeer. So het die doodsengel nie net geweet waar hy eers moet verby hou nie, maar dit was ook ʼn teken van die bewoners aan wie se kant hulle is.
Sonder om twee keer te dink, steek hulle hul hand op om vir almal te wys dat hulle kinders van God is. Die bloed op die deurkosyne was Israel se “ja” op God se woord. Hulle het nie die nag oorleef omdat hulle dapper of beter was nie, maar omdat hulle onder God se teken gestaan het.
God is hul Beskermer. Hy is die Een wat in beheer is en dinge laat gebeur. Daar gebeur dinge in ons lewe wat ons nie altyd verstaan nie, maar van een ding kan ons seker wees: wanneer moeilikheid op ons neerdaal, is God daar om te help.
En is dit nie presies die resultaat van ʼn intieme verhouding met God nie? Ons lewe moet deurtrek wees van gehoorsaamheid (om die bloed aan die kosyne te smeer) en vertroue (dat die swaar verby sal gaan).
Die mooiste sin in die vers is dat God “nie sal toelaat” dat die verwoester inkom nie. Wanneer jy onder God se genade skuil, staan Hy self tussen jou en die verwoesting. Dis goed om dit te weet en juis dan daaraan vas te hou.
Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek soms bang is vir die dinge wat om my gebeur. Ek is bang dit oorval my. Maar ek verf vandag, in geloof, as’t ware die bloed aan my deurkosyn en kies om U te vertrou ...
Vrae
- Waar in my lewe vra God vandag eenvoudige gehoorsaamheid van my?

- Is daar iets wat God vir my gesê het om te doen wat ek nog uitstel?

- Vertrou ek dat God my kan beskerm wanneer ek doen wat Hy sê?
Kruisverwysings
- Hebreërs 11:28
- 1 Korintiërs 5:7
- 1 Petrus 1:18–19
Doen dit nou
- Dink vandag aan een ding wat jy weet God vir jou gesê het om te doen, maar wat jy nog uitstel.

- Neem vandag ’n eenvoudige stap van gehoorsaamheid, al voel dit klein of ongemaklik.

- Herinner jouself deur die dag dat jy onder God se beskerming leef wanneer jy Hom vertrou en gehoorsaam.