Ek is wat Ek is
Eksodus 3:14-15
“Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het. God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.”
Moses weet hy is op pad om groot branders te gaan maak. Hy besef ook hy kan dit nie in sy eie naam doen nie, want sy naam dra nie genoeg waarde nie. Inteendeel, sy naam word eintlik gekoppel aan moord.
Hy weet hy het versterkings nodig. Groot versterkings. Om so ʼn dwarstrekkerige volk agter hom te kry, moet hy die groot kanonne saamvat. ʼn Nog groter hekkie is seker die farao, want hy gaan beslis nie sommer ná die eerste versoek die hekke oopstoot nie.
God antwoord vir Moses eenvoudig, eintlik té eenvoudig met die eerste hoor: “Ek is wat Ek is.” In Hebreeus is dit Ehyeh asher ehyeh, wat ook kan beteken: “Ek sal wees wat Ek sal wees” of “Ek is die Een wat is.”
Dis nie een of ander filosofiese raaisel wat ons eers moet uitwerk nie. God is nie soos die Egiptiese gode wat binne ruimte en tyd êrens in ʼn beeld vorm kry nie. Hy is die lewende, selfbestaande God, die Gans Andere. Hy word nie deur mense beheer nie.
God sê ook dat Hy die God van die begin af is, die God van hulle voorvaders. Die Een wat nog altyd daar was en is. God se Naam beteken Sy teenwoordigheid en Sy betroubaarheid. Op Hom kan hulle vertrou, want Hy is altyd daar.
Met ander woorde: Moses hoef nie op sy eie krag staat te maak nie. Hy gaan namens die Een wat altyd is, altyd bly, en altyd teenwoordig is. Dit gee hom die outoriteit, mag en krag.
Intimiteit begin wanneer ek God nie probeer definieer of beheer nie, maar Hom aanroep soos Hy Homself bekend maak. Hy is Wie Hy is, soos Hy nog altyd was.
God sê basies: “Moenie My in ’n boks sit nie, maar vertrou My karakter.” In onseker tye is God se grootste geskenk nie altyd ’n plan nie, maar ’n Naam: Hy is daar, Hy bly dieselfde, Hy sal wees wat Hy beloof om te wees.
Gebed
Vader ek glo dat die Almagtige is. Met U by my kan ek al my uitdagings stormloop ...
Vrae
- Probeer ek soms om God te verstaan en te beheer eerder as om Hom te vertrou?

- Wat verander in my lewe wanneer ek besef dat God altyd teenwoordig is?
- Leef ek met die sekerheid dat die “Ek is” saam met my stap?
Kruisverwysings
- Johannes 8:58
- Hebreërs 13:8
- Openbaring 1:8
Doen dit nou
- Raak vandag vir ’n paar minute stil en sê eenvoudig vir God wie Hy vir jou is.

- Lees weer hierdie teks uit Eksodus en herinner jouself dat God nie verander nie.
- Bring jou grootste uitdaging van vandag na Hom toe en sê hardop: “Here, U is by my.”