Bly kalm en vertrou
Eksodus 14:13-14
Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie. Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.”
Jy ken seker die spreekwoord om tussen die duiwel en die diep blou see vasgekeer te wees. Ek weet nie of dit van die Israeliete af kom nie, maar hulle was letterlik vasgekeer tussen die duiwel en die diep blou see.
Toe die Farao hulle uiteindelik losgelaat het, het Moses hulle gelei tot by die Rooisee, maar voor hulle ‘n plan kon maak om verder te trek, het Farao se hele weermag op hulle toegesak. In die verte kon die volk die stof in die lug sien optrek en hulle het geweet: Hier kom moeilikheid!
Verskrik het hulle na Moses gehardloop. Hulle was eintlik lelik met hom en het op hom afgegaan omdat hy hulle gelei het om daar in die woestyn langs die see doodgemaak te word. Dit is wat vrees doen. Dit bring die lelik in ʼn mens uit en dan gaan jy af op ander mense.
Moses het die ervaring van God by die bos gehad. Hy het geweet God sal ʼn plan maak. Wat die plan op daardie stadium was, was nog nie vir hom geopenbaar nie, maar hy het vertrou. Hy weet God sou ʼn plan uitvurk.
En het God nie ʼn massiewe plan uitgevurk nie? Hy maak eenvoudig ʼn pad deur die see. Met ʼn wind wat sterk waai, maak Hy ʼn pad waar die hele volk droogvoets kon deurloop. Maar God maak ook sommer ʼn plan met die gevaar wat hulle jaag en die see maak oor hulle toe.
Wanneer ons in ʼn hoek vasgeverf word, wanneer ons tussen die duiwel en die diep blou see hang, gooi ons gou ons speelgoed uit die kot. Die menslik, né, maar dalk ook ʼn teken dat ons nie vir God vertrou nie.
Moses was rustig, al was die gevaar vinnig besig om nader te kom. Hy was rustig, want hy het eenvoudig bly glo in wat sy God kan doen. Ek weet dis moeilik, maar dis wat ons ook moet doen.
Ons moenie op die uitdaging fokus nie, maar eerder op God. Ons moet fokus op wat Hy al in die verlede gedoen het en wat Hy nou ook vir ons sal doen. Hy sal opdaag en plan maak. Vertrou net.
Gebed
Vader, dis nie maklik nie. Help my om nie op die uitdaging in my pad te fokus nie, maar op U. Help my om kalm te bly en te vertrou ...
Vrae
- Wat doen ek wanneer ek voel ek sit vas tussen twee onmoontlike keuses?

- Is my eerste reaksie paniek en beskuldiging, of vertroue in God?
- Kan ek vandag kies om stil te word en God te vertrou om vir my ’n pad oop te maak?
Kruisverwysings
- 2 Kronieke 20:17
- Jesaja 30:15
- Deuteronomium 3:22
Doen dit nou
- Dink vandag aan ’n situasie waar jy tans vasgekeer voel en bring dit eerlik voor God.

- Raak vir ’n paar minute stil en herinner jouself dat God al voorheen vir jou ’n pad oopgemaak het.

- Stuur vandag vir iemand wat ook swaarkry ’n kort boodskap van hoop en herinner hulle dat God steeds vir Sy mense veg.