Geen verskonings nodig
Eksodus 4:10,12
“Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.” Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.”
Vir Moses was hierdie ervaring seker heeltemal te veel om te hanteer. Hy kyk in sy eie tekortkominge vas. Hy weet waartoe hy in staat is, en om voor ʼn klomp mense te praat, is beslis nie een van sy gawes nie.
Ek wonder egter of hierdie nie dalk ʼn rookskerm is nie. Ja, hy het gehakkel, wat vir seker ʼn struikelblok kon wees as jy met ʼn belangrike ou soos Farao moes praat. Maar dalk onthou hy ook die moord wat hy gepleeg het en nou is hy bang hulle gaan hom in die tjoekie gooi, of nog erger, dalk maak hulle hom dood .
Dit is waarskynlik ‘n kombinasie van albei wat Moses se handrem optrek. Hy sien nie kans nie en stel selfs voor dat God iemand anders kies. Die probleem is dat Moses vaskyk in wat hy kan en nie kan doen nie.
Hy sien nie God se krag raak nie. God wys vir hom hoe ‘n stok in ʼn slang verander. Hy wys vir hom sy hand wat melaats word en weer gesond word. God demonstreer dat Hy mag het oor alles.
God sê ook vir hom dat Hy in beheer is van sy stembande. Hy hoef nie bekommerd te wees nie. God bring nog versterkings in deur sy broer Aaron te stuur om te kom help praat. Jy sien, wanneer God ons roep, rus Hy ons toe vir die taak.
Hoeveel keer het ek nie al in my eie tekortkominge vasgekyk nie. Hoeveel verskonings het jy al uitgedink om nie te doen wat God wil hê jy moet doen nie, omdat jy bang is vir die gevolge? Ja, ons is ook maar mens, maar ons moenie daaragter skuil nie.
Dalk moet ons ons oë wegdraai van waartoe ons in staat is en eerder fokus op wat God kan doen. As God stokke in slange kan verander en hande siek en gesond kan maak, hoeveel te meer kan Hy nie vir jou en my toerus vir dit waarvoor Hy ons roep nie?
Dalk is dit tyd om die bul by die horings te pak, God se hand te vat en te begin doen wat Hy van ons vra.
Gebed
Vader, ek weet ek het baie verskonings, maar vir eers sit ek hulle vandag opsy. Ek kies om te vertrou dat U my sal toerus en gereed maak vir dit waarvoor U my roep ...
Vrae
- Watter verskonings gebruik ek om nie te doen wat God van my vra nie?

- Kyk ek meer na my eie tekortkominge as na God se krag?
- Is ek bereid om God te vertrou om my toe te rus vir my roeping?
Kruisverwysings
- 2 Korintiërs 12:9
- Filippense 4:13
- Hebreërs 13:21
Doen dit nou
- Dink vandag aan iets wat jy weet God van jou vra, maar waarvoor jy nog verskonings maak.

- Vertel vir God eerlik waar jy bang of onseker voel en vra Hom om jou te help.
- Neem vandag een klein stap van gehoorsaamheid en vertrou dat God jou sal toerus.