Uit dankbaarheid vir God
2 Samuel 7:1-3
Dawid het lekker in sy paleis gebly. Niemand het hom gepla nie, want die Here het al die vyande in die lande om hom op hulle plek gehou. Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.” Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.”
Dawid het uiteindelik “gearriveer.” Vir jare lank was hy op hol deur woestyne, gate en grotte om lewend te bly teen die morsige planne van Saul om hom dood te maak. Hy het Jerusalem ingeneem en die ark van God het uiteindelik ook daar aangekom.
Nou sit hy hier rustig op die stoep, want selfs sy vyande word deur God op hok gehou. Hy bedink homself. Hier sit hy rustig in sy pragtige paleis met al sy mooiheid, terwyl die ark van God nog in ‘n tent staan. Dis mos nie reg nie.
Die profeet Natan kom daarvan te hore en asof hy ʼn stempel op Dawid se droom sit, sê hy vir hom dat hy maar die droom kan laat grondvat. En hy hoef dit nie eens op sy eie te doen nie. God sal hom daarmee help.
Maar as ons net die volgende vers lees, sien ons dat God sê Dawid gaan nie vir hom ʼn tempel bou nie. Inteendeel, God gaan vir Dawid ʼn “huis” bou. Nie ‘n huis van klip en hout nie, maar ‘n koningshuis, ‘n nageslag. Dis uiteindelik Dawid se slim seun, Salomo, wat die tempel sou bou.
Dawid wil vir God ’n huis bou, maar God trek eers die gordyn van genade oop. Hy herinner Dawid daaraan dat Hy vir hom uit die skaapveld gaan haal het en hom die leier van Sy volk gemaak het. God was oral saam met hom en het sy vyande voor hom uit die weg geruim. Dawid wil iets vir God doen, maar God herinner hom eers aan alles wat Hy reeds vir Dawid gedoen het.
Wanneer die oorlog stil word en die paleis gemaklik raak, wys Dawid se hart Wie hy regtig liefhet. Dawid gebruik sy rus nie net om homself te geniet nie; sy rus laat hom dink aan God se eer. Hier in die rustyd kyk Dawid nie wat hy nog kan kry nie, maar hy wil uit dankbaarheid iets vir God doen.
En dan verras God vir Dawid. Hy wil aan hom ʼn nageslag en ʼn huis gee wat vir niks skrik nie.
Dis wat in ʼn intieme verhouding met God gebeur. Laat ons dus vir God goed doen in die rustye, nie om iets daaruit te kry nie, maar uit dankbaarheid. Die res kan ons in God se hande los.
Gebed
Vader, ek bid nou uit dankbaarheid tot U, nie om te ontvang nie, want ek het reeds genoeg. Ek bid nie om iets te kry nie, maar om U te eer vir al U weldade. Dankie ...
Vrae
- Is daar iets wat ek uit dankbaarheid vir God doen, of doen ek meestal dinge omdat ek iets van Hom verwag?
- Waaruit het God my al gered en hoe wys ek vandag my dankbaarheid daarvoor?
- Is my grootste droom my eie gemak, of God se eer?
Kruisverwysings
- Psalm 116:12-14
- Romeine 12:1
- 2 Korintiërs 9:7
- Kolossense 3:17
Doen dit nou
- Maak vandag ’n lys van drie dinge waarvoor jy God opreg dankbaar is.
- Vra Hom daarna: “Here, wat kan ek uit dankbaarheid vir U doen?”
- Doen dan vandag iets praktiese, bv: bemoedig iemand, help iemand sonder dat hulle dit verwag, gee iets weg, of doen iets goed sonder om enige iets terug te verwag.