Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Sonde, vergifnis, genade

Sonde, vergifnis, genade

2 Samuel 12:12-13

Die ding wat jy skelm in die donker gedoen het, gaan Ek voor al die Israeliete helder oordag laat gebeur.’” Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!”

Die Woord van God is vol goeie boodskappe, opbouende boodskappe. Boodskappe wat ʼn mens rig om ʼn goeie lewe te leef. ʼn Lewe wat ʼn impak maak op ander. ‘n Lewe wat lewe bring en die lig aansteek in ‘n donker wêreld.

Die Woord van God het ook boodskappe wat ʼn mens so ‘n bietjie voor die krop steek. Boodskappe wat jy eintlik nie wil lees of van wil hoor nie. En maklik blaai ons verby dié gedeeltes. Dis egter presies soos die predikant wat op die kansel gestaan het en bladsye uit die Bybel geskeur het. Hy het gesê: Hoekom is die bladsye dan nou nodig as ons dit nooit lees nie?

Die gedeelde waar die profeet Natan vir Dawid voor stok kry, is een van dié gedeeltes wat ons eintlik wil skip, want dis nie lekker om te lees nie. Natan kom pak Dawid se verkeerde dade een vir een voor hom uit.

Dawid sweet. Dawid weet hy het heeltemal verkeerd gedoen. Dawid weet hy het toegelaat dat lus sy roete bepaal en dit was ʼn heel verkeerde afdraai. Daai met die “Geen toegang”-bordjie op. En tog het hy dit willens en wetens geïgnoreer.

Die ergste van alles is dat hy toe sy verkeerde dade probeer toesmeer met nog ʼn sonde: moord. Dieper en dieper sleep die sonde vir Dawid die swart kolk af.

En die netto effek van sy dade? Sy seun sterf.

Ons wil nie dié gedeelte lees nie, want hier hoor ons dat daar gevolge vir ons dade is. Verkeerde dade gaan nie sommer ongesiens verby nie. Wel, dalk verby mense se oë, maar nie verby God s’n nie. Elke keuse het ʼn gevolg. Daarom moet ons mooi kyk waar ons die eerste tree gee, want een tree in die verkeerde rigting bring jou op die verkeerde pad.

Eintlik moet ons hierdie gedeelte oor en oor lees, want hier sien ons ook die son weer opkom. Sonde het gevolge, maar dis nie waar die storie eindig nie. Die oomblik toe Dawid erken: “Ek het teen die Here gesondig,” antwoord Natan: “Die Here het jou sonde vergewe.”

Daar is nie eers ’n lang wagtyd tussen belydenis en vergifnis nie.

Dis goed om te hoor. Baie goed, want ons het God se genade en vergifnis net so nodig soos Dawid. Elke dag.

Gebed

Vader, vergewe asseblief al my sondes. Dié wat ek doen, sê en dink. Dankie vir U genade sodat ek nou weer met ʼn skoon bladsy kan begin. U is ʼn goeie God ...

Vrae

  • Watter sonde probeer jy toesmeer met nog 'n verkeerde daad?
  • Hoekom blaai ons so maklik oor die ongemaklike gedeeltes van die Woord?
  • Hoe ervaar jy God se vergifnis nadat jy geweet het jy het verkeerd gedoen?

Kruisverwysings

  • 1 Johannes 1:9
  • Psalm 51:3-4
  • Romeine 6:23

Doen dit nou

  • Bely vandag hardop 'n sonde wat jy al toegesmeer het.
  • Lees Psalm 51, Dawid se eie gebed van berou.
  • Dank God spesifiek vir een ding waarvoor Hy jou vergewe het.

Lees vorige dagstukke

Lees