Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Die pad van ware berou

Die pad van ware berou

Psalm 51:1-4

3 God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief. Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde. Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg. Delg die skuld van my sondes uit. Maak my skoon omdat my sondes my vuilgesmeer het. Ek weet dat ek groot foute in u oë gemaak het. Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. My gewete pla my aanmekaar. Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen.

Dawid het baie groot foute gemaak. Hy het erg gesondig in die oë van die Here. Hy het nie net aan sy eie drange oorgegee en met sy buurvrou in die bed geklim nie. Hy het sy verkeerde dade probeer toesmeer deur te reël dat haar man op die oorlogsfront omkom.

Wonder jy ook waar die grote Dawid se kop hier was? Het hy net die plot verloor? Het hy vergeet van God en dat hy die uitverkore een is, wat self deur God aangestel is en veronderstel was om die morele kompas vir die volk te wees?

Ek besef maar net weer dat niemand te goed, te groot of ʼn te toegewyde kind van God is om op ʼn onbewaakte oomblik die verkeerde besluit te neem en dan met ʼn groot bak gebakte pere te sit nie. Dis ʼn groot waarskuwingsbord wat voor elkeen van ons ingeslaan word.

Dis Natan die profeet wat Dawid se dade kom oopvlek. Vir seker het Dawid sy alie afgeskrik. Sy hartklop het seker deur die dak gespring toe hy besef dat hy uitgevang is.

Dawid besef wat hy aangevang het en val op sy knieë. Hy erken sy fout. Hy kruip nie weg nie. Hy probeer nie ʼn hoop verskonings bymekaar maak en sê sy het hom uitgelok of so iets nie. Nee, hy erken en bely sy sonde voor God. En in Psalm 51 stort hy eerlik sy hart uit.

Dis ʼn aangrypende psalm. Dis ʼn rou een. Dis een waarin ʼn groot man en koning soos Dawid nie bang is om sy foute voor God te kom neersit nie. Hy weet egter ook waar om te gaan aanklop vir genade. En dis by God. Daar kry hy vergifnis. En ja, dis net genade.

Binne ʼn intieme verhouding met God laat jou sonde jou oë traan. Jy weet dit pas nie daar nie. Maar as jy dan glip, weet jy dat jy dit gou moet erken en op die tafel moet sit. Dit dryf jou om voor God te gaan kniel, jou hart oop te maak en jou sonde te bely.

Gelukkig weet jy ook dat God genadig is en jou skuld vergewe wanneer jy dit voor Hom bely.

Dankie tog vir genade!

Gebed

Vader, ek al soveel keer teen U gesondig. Ek erken my foute en oortredings. Dankie dat U my vergewe. Dit is net genade ...

Vrae

  • Hoe reageer jy gewoonlik wanneer jy uitgevang word? Soek jy verskonings of val jy op jou knieë?
  • Wat hou jou soms terug om jou sonde eerlik op die tafel te sit voor God?
  • Wat beteken dit vir jou dat selfs 'n man soos Dawid so diep kon val en tog vergifnis kry?

Kruisverwysings

  • Psalm 32:3-5
  • 2 Korintiërs 7:10
  • Spreuke 28:13

Doen dit nou

  • Lees Psalm 51 hardop as jou eie gebed.
  • Skryf een ding neer wat jy nog nie voor God bely het nie, en doen dit vandag.
  • Onthou 'n keer toe jy genade ervaar het, en dank God daarvoor.

Lees vorige dagstukke

Lees