Om staande te bly
2 Samuel 11:4-5
Dawid het mense gestuur om haar te gaan haal, en toe sy by hom kom, het hy by haar geslaap. (Sy het haar juis gewas na haar menstruasie.) Na die tyd is sy weer terug huis toe. Die vrou het toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.”
Het jy al geglip? Het jy al iets gedoen en geweet dis verkeerd? Het jy al toegelaat dat plesier die leisels oorneem en die rigting bepaal, ‘n heeltemal verkeerde pad gevat en geweet jy speel nou op die bose ou se stoep?
Ek het al. En dan, die volgende oggend, voel jy mos hond en jy weet dit was nie binne die wil van God nie. Jy het na die verkeerde ou geluister. Dalk was dit lekker of jy het net vir ʼn oomblik beheer verloor, maar nou timmer jou gewete soos ʼn hammertjie wat nie wil ophou in jou kop nie.
Ai!
Ek wil dieselfde oor Dawid sê: Ai! Die briljante man. Die man van God. Die uitgesoekte ene. Die een vir wie God al so goed was. Die een wat God uit die hand van Saul gered het. Die een vir wie God soveel guns gegee het. Die een met soveel wysheid wat soveel mooi psalms tot God sing, se voet gly in een oomblik van lus.
Ek kry hom so jammer. Natuurlik kry ek vir Batseba en veral haar man ook so jammer. Die een gemors op die ander en in die proses is Dawid se hande vol bloed.
Hoe hoër die boom, hoe sterker die wind. Dawid leer ons baie. Hier leer ons weer dat die bose ou niemand uitlos nie.
Hoe meer erns jy maak met ʼn intieme verhouding met God, hoe meer moet jy op jou pasoppens wees. Die bose ou is glad nie te vinde daarvoor dat ons in ʼn diep verhouding met God staan nie en gaan alles probeer om ons van die pad af te kry.
Dis soos om weermag toe te gaan. ʼn Man moet voorbereid wees en die regte verdedigingstrategie hê. Wees voorbereid en reg vir die aanval. Gelukkig hoef jy dit nie alleen te doen nie. Die Heilige Gees is jou Kameraad en veg saam met jou.
Gebed
Vader, help my om vas te staan teen die aanvalle van die bose ou. Mag die Heilige Gees saam met my veg, want met U aan my kant kan ek staande bly ...
Vrae
- Wanneer laas het ek toegelaat dat lus die stuur oorneem?
- Waar's die "dakke" in my lewe wat my kwesbaar maak?
- Hoe lyk my verdedigingstrategie teen die Bose op die oomblik?
Kruisverwysings
- 1 Korintiërs 10:12-13
- Efesiërs 6:10-18
- Jakobus 1:14-15
Doen dit nou
- Skryf een "dak" in jou lewe neer en maak 'n plan om dit te vermy.
- Vra iemand om jou verantwoordbaar te hou.
- Bid die gebed hierbo hardop.