Slawerny en sukses – God is daar
Genesis 39:2-3
Die Here was baie naby aan Josef en dit het goed met hom gegaan. Hy het in Potifar se huis gewoon en ook daar gewerk. Potifar het agtergekom die Here is naby Josef, want hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het.
In ʼn spasie van ʼn paar weke was Josef se lewe in ʼn wipwaentjie. Hy het rustig skape opgepas toe sy pa hom vra om na sy broers toe te gaan. Daar loop hy homself vas teen erge teenstand van sy broers, soveel so dat hy in ʼn put gegooi word.
Gelukkig spring hy die dood vry, maar word toe aan ʼn smous verkoop wat daar verbygekom het. Sjoe, dit moes darem erg gewees het om soos ʼn dier verkoop te word aan iemand wat jy glad nie ken nie.
Asof dit nie genoeg is nie, word hy weggeneem uit sy eie land na ʼn vreemde land met vreemde gewoontes. En op die koop toe word hy wéér verkoop en hy beland in die huis van Potifar, die hoof sekuriteitsbeampte van die farao.
Die lewe vir Josef was nie maklik nie. Hier sit hy in ʼn vreemde land met geen familie, geen vriende en geen geluk nie. En tog gaan sit Josef nie in ʼn hoekie en kry homself jammer nie. Nee, eintlik leef hy so ʼn lewe dat die mense om hom sien dat hy anders is.
Ek vermoed elkeen van ons het ʼn keuse oor hoe ons die lewe leef. Ons kan self besluit om die uitdagings oor ons pad vir ʼn ses te slaan of nie. Ons kan die uitdaging in ons pad aangryp en sorg dat dit nie ons spoed breek nie, maar eerder vir ons spiere gee om nog beter deur die lewe te loop.
Josef het so besluit en baie gou die range geklim tot net onder die heerser van die land. Maar op sy eie sou hy dit nie kon regkry nie. Die Here was naby hom en hy het dit so uitgeleef dat almal dit raakgesien het.
Jy kan ook besluit hoe jy die lewe gaan leef. Jy kan besluit om in ʼn hoekie te gaan sit en jouself baie jammer te kry of jy kan besluit om elke goëlbal wat verby jou kom vir ʼn ses te pot. Ek dink laasgenoemde is die regte een. Gelukkig hoef jy nie die swaar alleen aan te durf nie. God is by jou. Hou die spasie dop. Vertrou God en kyk wat Hy doen …
Gebed
Here, my God, dankie dat U heeltyd by my is. Wys my hoe ek die een wat hier in my pad lê vir ʼn ses moet slaan ...
Vrae
- Hoe reageer ek wanneer die lewe my onverwags tref?
- Sien mense aan my houding dat God naby my is?
- Vertrou ek God net in sukses of ook in slawerny-seisoene?
Kruisverwysings
- Psalm 105:17–19
- Kolossense 3:23–24
- Romeine 5:3–5
Doen dit nou
- Kies vandag om een taak by die werk of by die huis met ’n goeie gesindheid te doen, al voel jy nie lus nie.
- Bid voor jy begin en vra dat God deur jou werk sal wys dat Hy by jou is.
- Doen iets goed vir iemand rondom jou, sodat hulle deur jou iets van God kan ervaar.