Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Ongehoorsaamheid is niks lekker nie

Ongehoorsaamheid is niks lekker nie

1 Samuel 15:10-11

Die Here sê toe vir Samuel: “Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.”

Saul is as koning aangestel toe die volk gevra het vir ‘n koning. Aan die begin het dit goed gegaan met Saul se koningskap en hy het seëninge van God ontvang. Maar Saul was te vinnig uit die blokke en kon nie op God wag nie.

Samuel gee ‘n duidelike opdrag vir Saul om oorlog te gaan maak en die vyand heeltemal te verwoes. Maar hy vang die koning en hou van die beste vee terug. Toe Samuel vra hoekom hy dan die gebulk van diere hoor, maak Saul verskonings bymekaar. Dis om vir God te offer.

Saul was ongehoorsaam. Hy het te veel van homself begin dink en sommer ’n standbeeld van homself opgerig. In die proses skuif hy vir God al hoe meer na die rand van sy lewe en staan hyself in die sentrum van sy lewe.

God se reaksie? Hy is jammer dat Hy vir Saul aangestel het as leier van die volk.

Dit is nodig dat ons ook die foute in ander mense se lewens raaksien, juis sodat ons nie in dieselfde gate trap nie. Intimiteit met God is nie net dat God jou roep en jou seën nie. Ons moet aanhou luister en doen soos God wil hê ons moet doen.

Saul het God se stem vervang met sy eie oordeel en menslike opinies. Dis wat mense maklik doen. Sodra ʼn mens iets bereik, begin jy maklik dink jy het dit alles self reggekry. Maar eintlik is dit God wat deur Sy Gees in ons werk.

Om net jammer te sê en dan met die verkeerde dinge voort te gaan, dra nie water nie. Daarom moet ons seker maak dat die dinge wat ons intimiteit met God bemodder, met wortel en tak uit ons lewe uitgeroei word.

Ons moet gehoorsaam bly aan ons roeping. Ons moet veral seker maak dat ons nie self in die pad kom en tussen ons en God kom staan nie. Die waarskuwing is duidelik: Wanneer gehoorsaamheid wegraak, raak intimiteit ook weg. Dan kan selfs ʼn gesalfde koning uiteindelik sy roeping en sy verhouding met God verloor.

Gebed

Vader, ek wil nie myself indruk tussen ons nie. Help my om gehoorsaam te bly, sodat ek my roeping kan uitleef ...

Vrae

  • Waar het ek begin om meer op myself as op God te vertrou?
  • Is daar iets wat God al vir my gesê het om te los, maar waaraan ek steeds vashou?
  • Luister ek nog werklik na God se stem, of volg ek net my eie planne?

Kruisverwysings

  • 1 Samuel 15:22
  • Jakobus 1:22
  • Spreuke 16:18

Doen dit nou

  • Vat vandag tyd en vra eerlik vir God om vir jou te wys waar trots of ongehoorsaamheid in jou lewe ingesluip het.
  • Skryf een ding neer wat jy weet God wil hê jy moet verander of los, en neem vandag ʼn konkrete stap om dit te doen.
  • As jy verkeerd was, erken dit sonder verskonings teenoor God of iemand anders, en kies om weer gehoorsaam te leef.

Lees vorige dagstukke

Lees