Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God kan

God kan

Teks vir die dag

Toe vat Samuel ’n kruik met olyfolie en gooi dit op Saul se kop uit. Hy omhels hom en sê: “Die Here salf jou as die leier van sy eie volk.”

Die volk van God wou ʼn koning hê. Alhoewel hulle op die manier eintlik teen God as hulle leier kies, gee God tog vir die volk wat hulle wil hê. ʼn Sigbare koning wat hulle kan lei en vir hulle met wysheid kan bedien.

Saul was opsoek na sy pa se donkies en het erg moedeloos geword toe hy hulle nie kry nie. Een van sy dienaars sê toe dat hy gehoor het van ʼn man van God wat in die dorp is. Saul vat toe die pad na die man met die hoop dat hy hom sal help om sy pa se donkies op te spoor.

Dis hoe Saul by Samuel uitkom. ʼn Klein voorstel van ʼn slaaf op ʼn dag wat dit vir hom soos tydmors voel, kom hy toe by sy toekoms aan.

Toe Samuel vir Saul sien, toe weet hy, want God het die vorige dag vir hom gewys dat hy ʼn man uit die stam van Benjamin vir hom sal stuur. Samuel nooi hom na ʼn feesmaal, seën hom en sê dat hy die nuwe koning gaan wees.

Saul sien nie die hele prentjie nie en kap dadelik terug. Hy is deel van die kleinste stam, maar net ʼn eenvoudige jong man. Maar tog bevestig Samuel dit: “God het jou gekies! Jou toekoms is in God se hande en die prentjie heel anders as wat jy dink.”

So kies God vir ons elkeen, elke dag. Ons is God se hande en voete en ek vermoed dis nie nuwe nuus vir jou nie. Elke kind van God is met ʼn doel hier op aarde geplaas en dit is om ʼn verskil te maak orals waar ons gaan.

Tog doen ons dit nie. Seker omdat ons nie weet waarvoor God ons roep nie. Dalk is ons te besig met “donkie” goeters dat ons nie weet waarvoor God ons roep nie. Ons lewe is so bewolk en mistig dat ons net probeer oorleef.

Maar dis juis daar in die mis, terwyl ons die sin van alles soek, waar God ons wil gebruik. Ek weet ons voel ook soms soos Saul te jonk of onbekwaam  vir die taak, maar weet dat God nie so dink nie. Hy sal jou bekwaam maak. Moenie in jou eie vermoëns glo nie.  Glo in God. Hy kan dit maak werk.

Gebed

Vader, ek voel ook soos Saul maar aan die bang kant, maar met U wat voor stap sien ek kans ...

Vrae

  • Waar voel ek tans te klein of onbekwaam vir wat voor my lê?
  • Is ek so besig met die alledaagse dat ek God se roeping miskyk?
  • Glo ek regtig dat God my kan gebruik net soos ek is?

Kruisverwysings

  • Jeremia 1:6–8
  • Efesiërs 2:10
  • Filippense 4:13

Doen dit nou

  • Raak vandag stil en vra vir God: “Waar wil U my gebruik?”
  • Kyk vandag doelbewus vir een geleentheid om iemand te help, aan te moedig of hoop te gee.
  • Wanneer jy onseker of onvoldoende voel, herinner jouself hardop: “God kan deur my werk.”

Lees vorige dagstukke

Lees