Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Geloof in die onsigbare

Geloof in die onsigbare

1 Samuel 8:6-7

Samuel het niks gehou van die idee dat hulle gesê het: “Gee vir ons ’n koning om ons regter te wees,” nie. Hy het toe by die Here raad gaan vra. Die Here sê toe vir Samuel: “Jy moet maar doen wat hulle sê, want eintlik is dit nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar hulle wil My nie meer as koning oor hulle hê nie.

Om te leer hoe ek moet lewe, moet ons soms ook na ander se foute kyk om seker te maak dat ons nie dieselfde foute maak nie.

Samuel was al oud en hy het sy seuns as regters aangestel, maar sy seuns het nie soos hy geleef nie. Hulle was korrup en het omkoopgeld geneem. Dit maak die volk onseker en ook kwaad. Hulle het ook rondgekyk en gesien dat ander nasies konings het.

Wanneer die volk dan by Samuel opdaag en vra dat hulle ook ʼn koning moet kry, is Samuel se hart seer. Hy gaan praat met God daaroor. God sê vir Hom iets skokkends: “Moenie dit persoonlik opneem nie, Samuel. Hulle verwerp nie vir jou nie, maar vir My as hulle God en Here.

Ek wonder of die volk besef het dit gaan nie hier oor ‘n verandering in bestuur van die volk nie, maar eintlik oor ‘n geloofsverandering. Hulle wil ʼn sigbare koning hê wat hulle kan sien en beheer, eerder as om ʼn onsigbare God te vertrou.

Ons moenie dieselfde fout maak nie. As ons in die wêreld kyk, vertrou mense net wat hulle sien. Hulle kan nie in ʼn onsigbare God glo nie. Hulle bou eerder hulle geloof op dinge wat hulle bymekaar kan maak. As hulle genoeg het vir die dag, is dit vir hulle genoeg.

Ons sekuriteit lê nie in dinge nie, maar in die teenwoordigheid van God, al kan ons Hom nie sien nie. Ons geloof lê in God wat in beheer is, wat na ons kyk, wat ons veilige vesting is en ons beskerm teen gevare.

Dis nie maklik nie, want ons wil graag sien. Ons wil weet dat dit waar is. Dis te verstane, want ons is maar net mense.

Maar God gee vir ons ʼn brug om van hier na Hom te beweeg, en die brug is geloof. Mag ons ons geloof versterk, sodat die winde van die wêreld dit nie omwaai nie. God is ons Verlosser en Hy is in ons. Dit glo ek. En dis al waaraan ek kan vashou.

Gebed

Vader, ek glo in U. Ek glo dat U in my is en my pad vir my voorberei ...

Vrae

  • Waar plaas ek my sekuriteit – in God of in dinge wat ek kan sien en beheer?
  • Wanneer raak my geloof swak omdat ek nie dadelik antwoorde of resultate sien nie?
  • Hoe kan ek my vertroue in God meer doelbewus versterk?

Kruisverwysings

  • Hebreërs 11:1
  • 2 Korintiërs 5:7
  • Psalm 20:8

Doen dit nou

  • Dink vandag aan een ding waarop jy te veel staatmaak vir veiligheid of vrede, soos geld, mense of beheer, en gee dit bewustelik terug vir God.
  • Wanneer jy vandag bekommerd raak oor iets wat jy nie kan beheer nie, stop en bid eenvoudig: “Here, ek kies om U te vertrou.”
  • Doen een klein geloofstap vandag sonder om eers alles uitgewerk te hê, en vertrou dat God saam met jou sal stap.

Lees vorige dagstukke

Lees