Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God se krag in my

God se krag in my

1 Sameul 10:6,9

Die Gees van die Here sal in jou werk sodat jy ’n ander mens sal word en saam met hulle in profetiese ekstase sal wees. Die oomblik toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God klaar sy hart verander.

Saul is pas in die geheim gesalf tot koning. Samuel vertel vir Saul van die tekens wat hy sal ontvang wat bevestig dat God hom tot koning geroep het. Die tekens sluit onder andere in dat iemand vir hom gaan kom vertel dat sy donkies gevind is en dat hy met ʼn klompie profete sal ontmoet. Dit het alles so gebeur.

Saul ontvang egter veel meer as net hierdie tekens. God kom en vernuwe sy binneste. Hy gee vir hom innerlike toerusting vir ʼn taak wat eintlik te groot is vir hom om self te hanteer. Die Gees van God het sy intrek kom neem. Saul was ʼn gewone man, maar dis die Gees van God wat hom bemagtig om ʼn koning te word.

Ons almal is maar net gewone mense wat nie veel meer as net gewone dinge kan doen nie. Maar wanneer die Gees binne ons aan die werk gaan, verander Hy ons hart. Ons dink anders. Ons doen anders. Ons lewe anders en dan is ons vrugte anders.

Wanneer die Gees van God in ons aan die werk is, kry ons krag om dinge te doen wat ons nie geweet het ons kan doen nie. Dis asof ons soos superman in ʼn telefoonhokkie inklim en as ons daar uitstap met ons nuwe Gees-pakkie, is niks onmoontlik nie.

Maar behalwe dat ons die Gees moet toelaat om Sy krag in ons los te laat, is daar die meeste van die kere ʼn tydperk van voorbereiding. Saul moes eers vir sewe dae gewag het voordat die profete opgedaag het.

En dis nogal ʼn ding waarvan ons nie baie hou nie —  om te wag. Dinge moes mos eintlik al gister in plek geval het. Maar dis in die wag, in stilte waar ons eintlik toegerus word om die krag deur ons los te laat. So kan ons dinge vir ander mense doen en ʼn groot verskil maak orals waar ons gaan.

God wil graag deur jou werk. Hy het Sy Gees in jou gesit om kragtig deur jou te werk. Stel jou hart oop en gee die dinge prys wat keer dat die krag van die Gees in jou losgelaat word. Die wêreld om jou sal anders lyk.

Gebed

Vader, dankie dat U my kies om U kragtige dade in die wêreld te laat grondvat. Help my om stil te sit sodat U U ding in my kan doen ...

Vrae

  • Gee ek vir die Heilige Gees genoeg ruimte om my hart en lewe te verander?
  • Is daar iets in my lewe wat keer dat God se krag deur my werk?
  • Kan ek geduldig wag op God se tyd en voorbereiding, selfs wanneer ek haastig raak?

Kruisverwysings

  • Sagaria 4:6
  • Handelinge 1:8
  • Galasiërs 5:22-23

Doen dit nou

  • Raak vandag doelbewus tien minute stil sonder jou foon of enige geraas en vra die Heilige Gees om met jou te werk.
  • Skryf een area neer waar jy weet God wil jou verander of gebruik en bid spesifiek daaroor.
  • Doen dan vandag een praktiese daad van liefde, bemoediging of hulp vir iemand anders, sodat God se Gees deur jou hande en woorde sigbaar kan word.

Lees vorige dagstukke

Lees