Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Om versoekings te laat bad

Om versoekings te laat bad

Genesis 39:9

In hierdie huis het ek die meeste mag en u man sal my alles gee wat ek vra. Behalwe natuurlik u, sy vrou. Hoe kan ek nou sy vertroue skend en by u gaan slaap? So iets is baie verkeerd en ’n groot sonde teen God.”

Josef het gou die trappe van sukses by sy werkgewer geklim. Soos die Engelsman sê: He was a very likeable guy. Orals waar hy gekom het, het mense van hom gehou. Potifar het hom so vertrou dat hy sy hele bestaan aan hom toevertrou het.

Selfs toe hy in die tronk gegooi is, het die hoof van die tronk so baie van hom gehou dat hy hom aangestel het om na al die gevangenes te kyk. Met hom as die hoof het dit goed gegaan in die tronk, en natuurik, as dit daar goed gaan, het dit baie goed gegaan met die hoofbewaarder.

Orals is mense geseën omdat die Here vir Josef geseën het. Orals waar Josef gegaan het, is die mense met wie hy in aanraking gekom het ook geseën. Vir seker was Josef ʼn goeie stuk gereedskap in God se hand.

Maar saam met hierdie voordeel kom daar ʼn pakkie wat nie altyd lekker is nie: versoekings. Hier, op ʼn skinkbord, kom gee die baas se vrou haar alles vir hom. Daar is selfs niemand in die huis nie. Wie sal dan nou weet?

Josef self sal weet. Hierdie is ʼn grens wat hy nie wil nie en ook nie sal oortree nie. Die versoeking lyk vir seker aanloklik, maar Josef het integriteit. Hy het liefde vir sy God en wil in Sy wil leef, maak nie saak wat dit kos nie, hy sal nie ingee vir die versoeking nie.

Dis nou een feit so waar soos ʼn koei: as ʼn mens in die wil van die Here leef, dan lê daar êrens ʼn woeste versoeking vir jou en wag. En ek vermoed daar is ʼn direkte verband dat hoe meer jy binne die wil van God leef, hoe rowwer raak die versoekings.

Josef kon sterk staan, en al word hy vals beskuldig en selfs in die tronk gegooi, buig hy nie sy knie vir die liegstories nie. Op sy eie sou hy egter nooit so onwrikbaar kon staan nie. Dis net God wat hom hier kon help.

Dis slegs in ʼn intieme verhouding met die liefdevolle Vader wat ek en jy sterk kan staan teen versoekings.  Daarom moet ons elke dag toelaat dat die verhouding tussen God en ons sterker groei, want dan het ons versterkings om sterk te staan teen die versoekings wat so ongenooid na ons aangevlieg kom.

Gebed

Heilige Gees, ek gee oor. Op my eie kan ek nie, maar met U kan ek enige versoekings stormloop ...

Vrae

  • Waar is my swak plek waar versoeking maklik insluip?
  • Het ek vooraf grense vasgemaak, of besluit ek eers wanneer ek reeds onder druk is?
  • Glo ek regtig dat intimiteit met God my grootste beskerming teen sonde is?

Kruisverwysings

Doen dit nou

  • Dink vandag eerlik oor waar versoeking die maklikste by jou inkom.
  • Maak ’n praktiese plan om daardie situasie te vermy of te verander.
  • Vra vir God se hulp in gebed en stuur ’n boodskap vir ’n vriend om saam met jou daarvoor te bid.

Lees vorige dagstukke

Lees