Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Luister en lees gereeld

Luister en lees gereeld

Josua 8:34-35

Daarna het Josua alles wat die wet sê, voorgelees, ook oor seëninge en strawwe, net soos dit in die wet geskryf was. Josua het elke opdrag van Moses aan die hele vergadering Israeliete voorgelees. Die vroue en kinders en die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, was ook by.

Ná Jerigo en die krisis by Ai, waar hulle eers verloor het en toe gewen het, lei Josua die volk na Sikem. Daar is twee berge, naamlik Ebal en Gerisim. En dis nie toevallig nie. ʼn Paar maande voor hierdie het Moses gesê die verbond moet hier hernu word en die seën  oor die volk uitgespreek word.

Op ʼn manier is hierdie ʼn stop en ʼn herfokus. Die doel is nie die beloofde land nie. Die doel is om in ʼn verhouding met God te leef. Josua lees die seëninge en strawwe voor. Dis belangrik om te besef dat God nie net beloftes gee nie.

God  gee ook grense waaraan hulle gehoorsaam moet wees. Die volk hoor weer dat gehoorsaamheid lewe en vrede bring. Die teenoorgestelde is ook egter ook waar. Ongehoorsaamheid breek en bring pyn.

En die dinge het nog glad nie verander nie. Ons het almal drome en daar is niks mee verkeerd nie. God droom saam met ons, maar soms skuif die droom in die najaag en besig wees van die wêreld tussen ons en God in.

Die droom raak nou belangriker as God. Dis juis hier waar ’n mens begin wegbeweeg van gehoorsaamheid en dinge begin skeefloop.

Ons moet soos Josua ook gereeld, eintlik daagliks, by God se Woord opdaag. Ons moet tyd maak om in hierdie woelige wêreld stil te raak en weer te luister na God se seëninge en waarskuwings, sodat ons kan weet hoe ons moet leef.

Intimiteit met God beteken dat ons plekke sal soek waar ons kan onttrek van die lewe en spesifiek net konsentreer op ons verhouding met God. So baie keer vra ons vir mense hoe dit met hulle gaan, maar soms moet ons vra: “Hoe gaan dit met jou en God?” Want dis hier waar ons rustig kan raak en leiding kan vind vir ons daaglikse pad.

Gebed

Vader, ek loof U. Ek wil graag by U wees, elke oomblik van die dag. Gees van God, help my om rustig te word en gereeld by U op te daag ...

Vrae

  • Hoe gereeld maak ek doelbewus tyd om na God se Woord te luister?
  • Wat het dalk tussen my en God ingeskuif sonder dat ek dit agterkom?
  • Hoe lyk my verhouding met God op die oomblik?

Kruisverwysings

  • Psalm 119:105
  • Josua 1:8
  • Jakobus 1:22

Doen dit nou

  • Sit vandag 10 minute opsy en lees doelbewus ’n gedeelte uit die Bybel sonder enige afleidings.
  • Skryf een ding neer wat God vir jou wys en hoe jy dit vandag prakties kan uitleef.
  • Vra jouself eerlik: “Hoe gaan dit met my en God?” en maak een klein verandering om nader aan Hom te leef.

Lees vorige dagstukke

Lees