Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God bring versterkings

God bring versterkings

Josua 10:13-14

Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee.

ʼn Mens dink maklik dat die Israeliete die beloofde land op ʼn skinkbord gekry het. Maar dit was nie so nie. Hulle moes hard werk. Sommer net ná die inval van Jerigo ontstaan daar oorlog teen Ai, omdat Agan ongehoorsaam was.

Hulle verloor eers die stryd, maar nadat hulle hulle verkeerde dade bely het, gee God weer oorwinning en hulle neem stad vir stad in.

Die Gibeoniete raak bang en kom met ʼn lang storie dat hulle van ver af kom, maar eintlik was hulle net van om die draai. Sonder om die Here by die affêre te betrek, glo Josua en die volk hulle en sluit ʼn verbond met hulle. Later het die Israeliete hulle fout agtergekom, maar hulle kon niks daaraan doen nie, wat hulle het die verbond in die Naam van die Here  gesluit.

Volgende spreek vyf konings uit die Amoriete af om die Gibeoniete aan te val, maar Josua fnuik die aanval deur dwars deur die nag te trek. Maar hulle is nie op hul eie nie. God veg saam met hulle. God stuur haelstene wat meer vyande doodmaak as die swaard.

Josua het egter nog hulp nodig en roep versterkings in. Van God.

Josua besef dat as dit donker raak, hulle nie die veldslag gaan wen nie. Daarom vra hy vir God om die son te laat stilstaan. God maak so en die Israeliete kry genoeg tyd om die oorwinning na hulle kant toe te laat swaai.

As jy ʼn kind van God is, is daar oorlog. Die oorlog is vir jou siel en die vyand sal enige iets probeer om jou van die pad af te kry. Dalk deur versoekings of sommer deur mense naby aan jou. Dis ʼn realiteit.

Gelukkig kan jy rustig wees, want jou versterkings is reeds in plek. God! Al kos dit ʼn storm met haelstene, of al moet God selfs die son langer laat skyn net sodat jy jou vyand kan uitsorteer, kan jy maar weet: God sal vir jou veg.

Gebed

Vader, dis goed om te weet dat U saam met my sal veg. Dan sien ek kans vir enige iets ...

Vrae

  • Roep ek na God wanneer ek in ’n stryd is, of probeer ek dit alleen hanteer?
  • Waar het ek dalk besluite geneem sonder om eers vir God te vra?
  • Glo ek regtig dat God bonatuurlik kan ingryp in my situasie?

Kruisverwysings

  • 2 Kronieke 20:15
  • Romeine 8:31
  • Psalm 20:8

Doen dit nou

  • Dink aan ’n huidige “stryd” in jou lewe en noem dit spesifiek voor God in gebed.
  • Vra vandag doelbewus vir God se hulp in daardie situasie, al voel dit vir jou groot of onmoontlik.
  • Maak dit prakties deur eers vir God te vra voordat jy ’n belangrike besluit neem vandag, al is dit iets klein.

Lees vorige dagstukke

Lees