Begin, al lyk dit nog nie reg nie
Josua 13:7
Ek sal al hierdie mense uit hulle gebiede wegdryf sodat die Israeliete daar kan gaan bly. Wat jy moet doen, is om te sorg dat die hele land onder die halwe Manassestam en die ander nege oorblywende stamme verdeel word volgens my opdrag aan jou.
Josua is nou al lank in die tand en die groot veldslae om die land in te neem, is nou agter die rug. Tog is daar gedeeltes van die land wat nog nie ingeneem is nie.
Josua ontvang ʼn opdrag van God dat hy die dele aan die stamme moet toewys. God sê vir die volk dat hulle nou Sy belofte moet begin leef. Dis nie net woorde nie, maar ʼn realiteit. God se belofte moet nou ʼn adres kry en om dit reg te kry, moet die mense instap.
Baie mense wag vir die perfekte oomblik voordat hulle iets doen, maar soms moet jy net begin. Dis soos Moses by die Rooisee. Daar was nie ʼn pad nie. Hy moes eers sy toon in die water sit voordat die pad oopgegaan het.
Op ʼn manier sê God dat hulle nie net moet praat oor wie Hy is en wat Hy vir hulle belowe het nie. Hulle moet ook doen waarin hulle glo. Of eintlik nog meer: Begin leef in dit wat Ek reeds gegee het.
Ja, daar is nog vyande en gedeeltes van die land wat nog nie verower is nie, maar die kern is dat die belofte nie eendag op ʼn skinkbord na jou gaan kom nie. Jy ontvang die belofte deur nou in gehoorsaamheid te begin beweeg.
Jy sien, intimiteit vra ʼn lewe vol geloof. Dis wanneer ek my verantwoordelikheid en deel verstaan en dit met dankbaarheid aanvaar. Dan moet ek elke dag daarin wandel, vir seker met geloof, met harde werk en volharding.
Dis Martin Luther King Jnr. wat gesê het: “Faith is taking the first step even when you don’t see the whole staircase.”
Ek weet dit is nie maklik nie, maar skryf net die beloftes neer wat God al vir jou gewys het. Kies een praktiese stap om dit vandag jou eie te maak. Soos die Engelsman sê: Own it. En gaan doen dit.
Gebed
Vader, ek is bang vir die onbekende, maar tog gryp ek U beloftes aan wat al so lank in my kop maal. Ek gaan dit nou deel maak van my lewe ...
Vrae
- Watter belofte of droom hou ek terug omdat dit nog nie “reg voel” nie?
- Wag ek vir die perfekte tyd, of vertrou ek God genoeg om nou te begin?
- Wat is my deel wat ek moet doen in dit wat God reeds belowe het?
Kruisverwysings
- Hebreërs 11:8
- Jakobus 2:17
- Filippense 1:6
Doen dit nou
- Skryf vandag een belofte of droom neer wat jy glo van God af kom, maar wat jy nog uitstel.
- Breek dit op in praktiese treë wat jy vandag al kan neem.
- Doen daardie stap vandag, al voel jy nog onseker, en vertrou dat God die res sal uitwerk soos jy beweeg.