Geen rooikaart vir Ragab
Josua 6:25
Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel.
Voordat Josua die beloofde land ingaan, stuur hy eers weer spioene in, sodat hulle voorbereid kan wees op wat op hulle wag. Dis nie ongewoon nie en dit maak sin dat ʼn mens nie in die duister rondtas nie.
Hulle kies om by Ragab, die tannie van die nag, te oornag. Dis natuurlik slim, want baie vreemde manne het by haar deur in en uit beweeg. Haar woonplek was ook strategies in die stadsmuur. Dis ʼn goed geleë plek as ʼn mens vinnig jou goed moet vat en waai.
Die koning van Jerigo ken natuurlik ook die strategie en daarom stuur hy die soldate na haar plek in die muur. Ragab sien dit kom en stuur die manne om op die dak te gaan wegkruip. Sy help hulle die volgende oggend vroeg om met ʼn lang rooi tou deur die venster te ontsnap .
Wonder jy ook hoekom Ragab dit gedoen het? Jy sien, sy het tot geloof gekom. Sy het gehoor wat God vir Sy volk gedoen het en erken in soveel woorde dat Hy die Skepper van die hemel en die aarde is. Sy kies vir God bo die ander gode.
Sy waag baie. Sy waag haar lewe, want as die koning haar vang, wag die dood op haar. Tog kies sy om die spioene weg te steek en selfs die soldate te mislei. Dit doen sy op grond van haar nuwe geloof. Haar geloof is nie net woorde nie, maar word sigbaar in haar dade.
Ware geloof in God laat ʼn mens dinge doen wat buite die normaal is. As jy regtig glo, is jy nie meer bang om jou lewe te verloor nie, want eintlik weet jy waarheen jy gaan as jy daarvoor moet sterf, en dat dit in elk geval ʼn baie beter plek is.
Ek wonder of ek en jy vandag bereid sal wees om ons geloof op die spel te plaas en nie bang te wees om daarvoor te sterf nie? Mag God se Gees ons krag gee om wel op te staan, maak nie saak of ons ons werk, vriende of selfs ons lewe kan verloor nie.
En o ja, jou verlede, jou dade en dit wat jy aangevang het, is nie ʼn verskoning nie. Selfs Ragab se verlede het haar nie gediskwalifiseer nie. Haar geloof het vir haar en haar familie ‘n nuwe toekoms moontlik gemaak en hulle het bly leef.
Gebed
Vader, dankie dat U selfs vir my wil gebruik. Help my nou deur U Gees om op te staan en reg te doen ...
Vrae
- Glo ek dat my verlede my diskwalifiseer, of dat God my steeds kan gebruik?
- Waar vra God vandag van my om my geloof in dade te wys?
- Is ek bereid om vir God te staan, selfs al kos dit my iets?
Kruisverwysings
- Hebreërs 11:31
- Jakobus 2:25–26
- Matteus 1:5
Doen dit nou
- Skryf vandag een spesifieke ding neer uit jou verlede wat jou nog pla, en sê vir God jy gee dit nou vir Hom oor.
- Kies een aksie van geloof vandag, soos om iemand te help, die waarheid te praat, of iets reg te maak wat jy al lank uitstel.
- Staan vandag vir God op, al beteken dit jy praat of doen nie saam met dinge wat jy weet verkeerd is nie.