Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God maak planne

God maak planne

Eksodus 2:10

Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.”

Na Josef se dood en die opkoms van ʼn nuwe leier in Egipte was die honeymoon vir die Israeliete verby. Die nuwe heerser was bang dat die groeiende klomp Israeliete hande sou vat met sy vyande en teen hom sou opstaan.
Hy maak toe ʼn wrede plan om die bevolkingsgroei te stop: alle babaseuntjies moes in die Nyl gegooi word. Hoe wreed is dit nie? Maar sou die farao ooit besef dat hy juis hier in die hand van God gespeel het en indirek deel geword het van God se groter plan om die Israeliete uit die land te lei nie?
Hoe wonderlik is dit nie om God se hand verweef te sien in alles nie. Moses se ma maak ook ʼn plan sodat hy nie in die rivier verdrink nie. Sy sit hom in ‘n mandjie in die rivier, en ironies genoeg word hy juis uit hierdie moordrivier gered. En die cherry op die koek? Sy eie ma kry die geleentheid om hom self groot te maak.
Die hele verhaal is egter nie net ‘n mooi storie nie. Mense neem verkeerde afdraaie en doen dinge wat nie binne die wil van God is nie. Moses sien hoe een van die slawedrywers ʼn slaaf stukkend slaan. Uit woede slaan hy die man dood en hy moet vlug vir sy lewe.
Lank daarna, terwyl hy skape oppas in die woestyn, loop hy hom vas in ʼn bos wat nie ophou brand nie. Hy druk sy hande voor sy oë, want hy besef dis God wat hier voor hom is. Hy trek sy skoene uit en gaan lê laag voor God, want hy weet hier kom ʼn ding.
Hoe wonderlik is dit nie om te sien dat God nie een stokkie laat rondê om by Sy storie vir die mensdom uit te kom nie. ʼn Farao wat alles in sy mag probeer om die volk te onderdruk, word juis gebruik om die toekomstige leier van die volk groot te maak.
Selfs wanneer mense verkeerde keuses maak, gebruik God dit om hulle op die plek te kry waar Hy hulle wil ontmoet.
Selfs deur wrede besluite, verkeerde keuses en moeilike omstandighede werk God stil agter die skerms om Sy plan uit te voer en Sy mense te lei na die plek waar Hy hulle wil gebruik. God woel in Sy kinders se lewens. Ook in jou lewe. God is besig om jou te help om by Sy plan vir jou lewe uit te kom. Glo jy dit? Volg jy dit?

Gebed

Vader, dis nie altyd maklik om dit te sê nie, maar hier is ek. Woel met my. Vorm my. Lei my ...

Vrae

  • Kan ek glo dat God selfs in moeilike omstandighede besig is om te werk?
  • Waar het God al in my lewe ’n plan gemaak waar ek net chaos gesien het?
  • Is ek bereid om God se leiding te volg, selfs wanneer ek nie alles verstaan nie?

Kruisverwysings

  • Spreuke 16:9
  • Jesaja 55:8–9
  • Romeine 8:28

Doen dit nou

  • Dink vandag terug aan ’n moeilike of deurmekaar tyd in jou lewe en skryf neer waar jy nou God se hand daarin kan sien.
  • Vertel vir God in gebed waar jy tans voel dinge buite beheer is en gee dit weer in Sy hande.
  • Vertrou Hom vandag met een besluit wat jy moet neem en vra Hom om jou volgende stap te wys.

Lees vorige dagstukke

Lees