Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God in ons put

God in ons put

Genesis 37:23-24.

Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure. Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval.

Ons is besig met ʼn studie oor karakters uit die Ou Testament om te leer hoe ons verhouding met God al hoe meer intiem kan word. Dis amper vreemd dat ons vir ‘n oomblik vertoef by die put waarin Josef se broers hom gegooi het.
Josef was ʼn tipiese jongste kind. Die jongste is mos gewoonlik die oogappel. Die ouer broers en suster het, soos die Engelsman sê, die pad vir hom gepave. Hulle moes al die pakslae vat, en nou het die jongste een ʼn teerpad-lewe. Ek praat effe uit ondervinding, want ek is die jongste van ses.
Maar Josef se broers was egter glad nie erg oor hulle jongste boetie nie. Hulle gooi hom sommer in ʼn put, met planne om hom later dood te maak. Plaas jouself vir ‘n oomblik in Josef se skoene. Ek vermoed hy was erg getraumatiseerd terwyl hy die dood in die oë staar.
Tog moet ons dit maar vir mekaar sê: ons wat kinders van God is, word nie ʼn teerpad gewaarborg nie. Inteendeel! Die kans dat ons êrens in ʼn krisis gaan vasloop, is baie goed. En ons wil dit nie hoor nie, want vir grondpad-ry is ons eintlik nie gemaak nie.
Ons moet eerlik wees oor die lewe. Ons moet weet dat die wêreld doer aan die begin seergekry het en dat ons binne die stukkende lewe leef. Mense neem dom besluite. Ons neem ook soms besluite wat nie so vars is nie.
Trauma gaan ongenooid by die voordeur inbars. Maar hoe beïnvloed dit ons intimiteit met God?
God gebruik hierdie put-oomblikke in ons lewe om ons te vorm en ons nader aan Hom te trek. Dis juis in hierdie grondpad-lewe en put-momente waar ons vir ‘n oomblik tot stilstand gedwing word. Daar gryp ons na God. Daar gebeur intieme, spesiale tye saam met Hom.
Ek weet dis nie lekker om te hoor nie, maar dinge gebeur. Hier moet ons ʼn brug bou. Eintlik moet ons by God gaan skuil en, al het ons nie al die antwoorde nie, weet dat ons verhouding met Hom op ʼn manier net meer intiem kan word.

Gebed

Vader, ek moet bieg, dis nie maklik om in die put te sit nie, maar U weet ...

Vrae

  • Wat doen ek wanneer ek in ’n put beland? Hardloop ek van God af of na Hom toe?
  • Waar het ’n vorige krisis my geloof actually sterker gemaak?
  • Kan ek vandag glo dat God ook hier, in hierdie donker plek, by my is?

Kruisverwysings

  • 2 Korintiërs 1:8–9
  • Jakobus 1:2–4
  • 1 Petrus 5:10

Doen dit nou

  • Skryf vandag neer watter “put” of swaarkry jy tans beleef.
  • Vertel vir God eerlik hoe dit jou laat voel en vra Hom om saam met jou daarin te wees.
  • Bel of stuur ’n boodskap vir iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan en herinner hulle dat God ook by hulle is.

Lees vorige dagstukke

Lees