Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God het ʼn plan

God het ʼn plan

Genesis 41:56-57

Toe die hongersnood op sy ergste was en daar omtrent geen kos in die land meer was nie, het Josef die groot voorraadkamers oopgemaak en vir elke Egiptenaar sy deel afgemeet. Die hongersnood het dag vir dag vererger. Van oor die hele wêreld het mense kos by Josef kom koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood het die hele wêreld in sy greep gehad.

ʼn Kind van God, wat regtig naby God leef, se pad word vir hom of haar goed uitgewerk. So iemand is getrou aan die leiding van die Heilige Gees en op die ou end werk alles uit. Mooi stories word geskrywe.

Dis nie altyd ʼn maklike pad nie, maar jy kom uiteindelik by die plek uit waar God wil hê jy moet wees. En in die proses het jy ʼn reuse impak op ander mense se lewens en maak jy werklik ʼn verskil. Dan word ʼn mens se lewe betekenisvol.

Josef het dit nie altyd maklik gehad nie. Hy is amper deur sy broers vermoor. Hy is in ʼn put gegooi en op die ou end aan ʼn smous verkoop, net om van hom ontslae te raak. Daarna is hy in ʼn vreemde land as slaaf verkoop.

Maar God was die hele pad saam met hom. God het hom beskerm, sodat hy byvoorbeeld nie deur sy broers doodgemaak is nie. God was steeds by hom toe hy onskuldig in die tronk gegooi is.
As ‘n mens terugkyk op Josef se lewe, sien jy dat God met ʼn lang plan gewerk het. Maak nie saak watter wêreldse dinge en besluite in sy lewe ʼn draai gemaak het nie, God het gesorg dat hy by Sy plan uitkom.

God se plan was dat Josef aan die hoof sou staan van die redding van die mense van sy tyd. Daar was ʼn groot hongersnood en die mense sou soos vlieë omgedop het, want niemand het daaraan gedink om kos weg te sit vir die maer jare nie.

God werk altyd met ʼn lang plan met almal, met al Sy kinders, met my en jou. Ja, ons het al woeste draaie geloop en keuses gemaak wat nie altyd goed was nie, en tog bewerk God dit so dat ons uitkom waar Hy ons wil gebruik.

Ja, God wil jou gebruik. Hy het ʼn groot plan vir jou, en dit sluit in om ʼn verskil in mense se lewens te maak. Glo dit net en leef dit. Die wêreld kan anders wees omdat jy daarin is!

Gebed

Here God, soms voel ek so onbruikbaar en asof ek nie veel beteken nie. Ek glo nou dat U my wil gebruik. Hier is ek. Gebruik my ...

Vrae

  • Kan ek God se hand raaksien as ek terugkyk oor my lewe?
  • Glo ek dat God selfs my verkeerde draaie kan gebruik in Sy plan?
  • Waar kan God my vandag gebruik om ’n verskil te maak?

Kruisverwysings

  • Jeremia 29:11
  • Romeine 8:28
  • Psalm 37:23–24

Doen dit nou

  • Neem vandag tien minute en dink terug oor drie dinge waar God jou in die verlede gehelp het.
  • Skryf dit neer en dank Hom daarvoor.
  • Vra vir God om jou vandag te wys waar Hy jou kan gebruik om iemand anders te help.

Lees vorige dagstukke

Lees