Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
God draai altyd ʼn negatief om

God draai altyd ʼn negatief om

Genesis 50:20

Julle het ’n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. Baie mense leef vandag en het kos omdat julle my daardie dag verkoop het.

Josef se broers het seker deur ʼn paar emosionele oppe en affe gegaan. Toe hulle jonk was, was hulle diknek en hulle het gedoen wat hulle wou. Hulle het sommer self regter gespeel oor hul jongste broer en hom uit hulle lewe gewerk. Of so het hulle gedink.
Ek vermoed hulle het hulle alies af geskrik toe hulle tydens die hongersnood, terwyl hulle naarstiglik op soek was na kos, uitvind dat die “redder” niemand anders as hul jonger broer is nie – die een wat hulle vroeër verkoop het.
Gelukkig het Josef naby aan God geleef. Dit was vir hom die grootste plesier om die lewenslyn vir sy broers en sy pa te wees.
Nou is hulle pa dood en die broers is onseker. Gaan Josef hulle nou terugkry vir wat hulle aan hom gedoen het? Maar soos ek gesê het, Josef is anders, want hy leef naby aan God.
God gebruik selfs die verkeerde keuses in ons lewe en laat dit ten goede meewerk. Die broers het beslis verkeerde keuses gemaak. Jy verkoop nie jou broer nie, maak nie saak hoe irriterend die klonkie is nie. Jy gooi hom nie vir die wolwe nie. Dis verkeerd.
God gebruik die verkeerde keuses as ‘n pad om Josef op die regte plek te kry – in die land waar daar kos bymekaar gemaak word vir sewe maer jare. God werk met ʼn lang plan, selfs met ons kortstondige, dom keuses.
Ons is mos ook maar net mens. Ons emosies gaan op en af, en ons maak verkeerde besluite. Maar dis juis hier waar ons nie in ‘n hoek moet gaan lê en onsself jammer kry nie. Ons moenie dink dat ons nou gediskwalifiseer is vir verdere werk in God se wêreld nie.
Gelukkig hang dit nie alles af van ons doen en late nie. Ons Vader, wat ons ongelooflik liefhet, is goed daarin om ons swak keuses in geleenthede te verander – vir ons en vir ander.
God wil jou gebruik, daar waar jy nou is. Jy moet net opdaag.

Gebed

Vader, dankie dat U selfs my foute kan gebruik. Help my om nie vas te kyk in my verlede nie, maar om beskikbaar te wees vir wat U nou deur my wil doen. Amen.

Vrae

  • Is daar iets uit my verlede wat ek glo my vir altyd diskwalifiseer?
  • Kan ek glo dat God selfs my swak keuses kan gebruik?
  • Is ek bereid om vandag op te daag vir wat God deur my wil doen?

Kruisverwysings

  • Psalm 103:10–12
  • Jesaja 43:18–19
  • 2 Korintiërs 5:17

Doen dit nou

  • Dink vandag aan ’n fout of verkeerde besluit uit jou verlede wat jou steeds pla. Bring dit eerlik voor God. Gee dit weer in Sy hande en vra Hom om dit tot iets goeds te gebruik. Kies om nie in skuldgevoelens vas te bly sit nie, maar om vandag beskikbaar te wees vir wat God deur jou wil doen.

Lees vorige dagstukke

Lees