Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Droom drome saam met God

Droom drome saam met God

Genesis 37:10

Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”

Josef was ʼn klein dromertjie. Hy het gedroom dat hy en sy broers koring gerwe bymekaar gemaak het. Skielik het sy gerf regop gestaan, sy broers se gerwe het om hom kom staan, en toe voor sy gerf gebuig. Sy broers was nie vol van die lag oor die droom van hul jongste boetie waarin hulle voor hom sou kniel nie.
‘n Tydjie daarna daag hy weer by sy broers op en vertel van ʼn ander droom waar die son en die maan en 11 sterre, wat natuurlik na sy broers verwys, weer voor hom kom buig. Sy broers was so boos dat hul pa hom kortvat en sê hy moet eerder die skape gaan oppas.
Ons weet die drome het waar geword nadat sy broers hom aan ʼn handelaar verkoop het, wat hom weer verkoop het aan Potifar, ʼn man in die binnekringe van Farao. Op die ou end was dit juis sy broers wat bakhand voor hom kom kniel het toe die vernietigende droogte hulle na Egipte gedwing het.
Droom jy nog? Droom jy nog dat jy werklik ʼn verskil in God se wêreld kan maak? Of het die lewe jou so getimmer dat selfs jou drome nie meer die lig sien nie? Dalk is dit mense naby aan jou wat sê jou kop raas en dat jy maar eerder moet gaan skape oppas.
Ek het self gedroom toe ek baie klein was, seker eintlik meer gewens dat ek eendag sal kan skryf. Ek het selfs gewonder of ek nie dalk ʼn boek sou kon uitgee nie. Ek het sommer prentjies gesien van stapels boeke wat ek sou smous.
Met baie genade van Bo het dit waar geword. Selfs wanneer ek gewonder het of God my regtig kan gebruik, want sjoe, ek val te veel oor die grense, het Hy deurgedruk en my drome laat waar word.
Soms is dit nodig om net ʼn tydjie stil te word en te wonder oor die toekoms. So laat ons toe dat God ʼn stukkie van Sy prentjie van ons toekoms vir ons wys, sodat ons iets het om na te strewe. Wanneer jy jou drome saam met God droom en nie toelaat dat mense of omstandighede dit stilmaak nie, kan Hy selfs deur seer, verwerping en wagtyd werk om dit op Sy tyd waar te maak.

Gebed

Vader, help om weer te droom, saam met U te droom om by U prentjie vir my lewe uit te kom ...

Vrae

  • Watter drome het ek al laat vaar omdat mense dit afgelag of gekritiseer het?
  • Droom ek nog saam met God, of probeer ek net oorleef?
  • Glo ek dat God selfs wagtyd, verwerping en seer kan gebruik om Sy plan vir my te vorm?

Kruisverwysings

  • Jeremia 29:11
  • Psalm 37:4–5
  • Habakuk 2:2–3

Doen dit nou

  • Raak vandag vir ’n paar minute stil en vra vir God watter droom Hy in jou hart wil laat groei.
  • Skryf een droom neer wat jy lankal laat vaar het en bring dit weer in gebed na Hom toe.
  • Vertel vir iemand wat jy vertrou van daardie droom en vra hulle om saam met jou daarvoor te bid.

Lees vorige dagstukke

Lees