Kruispad247

JOU PAD. SY WERK.

Lees
Die volle prentjie met wysheid

Die volle prentjie met wysheid

Genesis 45:4-5

“Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het? Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help.

Hier bereik die storie van Josef en sy familie ‘n hoogtepunt. Josef het seker so bietjie in sy mou gelag vir sy broers. Hierdie groot, sterk manne, vol bravade, wat nie geskroom het om hul jonger boetie van sy pa weg te skeur en te verkoop nie, is nou so bang dat hulle soos honde met hulle stert tussen die bene nader kruip.
Josef misbruik egter nie sy magsposisie nie. Hy doen nie aan sy broers wat hulle aan hom gedoen het nie. Hy betaal hulle nie in eie munt terug nie. Ek vermoed dat daar binne ʼn intieme verhouding met God nie plek is vir vergelding nie.
In só ʼn verhouding groei daar eerder wysheid. Wysheid wat dinge soos vergelding se nek omdraai. Wysheid wat jou help om nie net die omstandighede op jou bord raak te sien nie, maar ook die groter prentjie. Dis soos ʼn voëlvlug wat jou help om anders te kyk en anders te reageer.
Josef het swaar gekry. Dit was nie ʼn maklike pad nie, maar hy het op die punt gekom waar hy verstaan hoekom hy daardeur moes gaan. Hy het besef dat die pad na God se wil nie altyd die maklikste pad is nie. Maar dit is juis op daardie pad waar God jou dra en jou die krag gee om uiteindelik by Sy storie vir jou lewe uit te kom.
Ek vermoed Josef het nie van die begin af God se plan gesien nie. In die put was hy vreesbevange. In die tronk moes hy, soos enige gevangene, net oorleef. Maar wanneer jy toelaat dat God in beheer is, kan jy aanhou veg, selfs al sien jy nie die volle prentjie nie. Dit sal later met wysheid kom.
Hier moet ons mooi konsentreer, want dis wat ons Vader ook van ons verwag. Mag dit waar wees van ons: dat ons bereid is om te groei in wysheid, dat ons aanhou beur en toelaat dat God ons vorm, sodat ons kan saamwerk en saamleef binne Sy plan vir ons lewe.

Gebed

Vader, ek is eerlik: dis nie altyd maklik om aan te hou nie, maar ek kan nie anders nie. Ek moet, ek wil, ek sal ...

Vrae

  • Kan ek God se groter plan raaksien in moeilike dinge wat met my gebeur het?
  • Hou ek nog vas aan seer of kies ek om te vergewe?
  • Vertrou ek God selfs wanneer ek nie die volle prentjie sien nie?

Kruisverwysings

  • Jakobus 1:5
  • Spreuke 3:5–6
  • Efesiërs 4:31–32

Doen dit nou

  • Dink vandag aan iemand wat jou seergemaak het.
  • Bid vir daardie persoon en vra vir God om jou hart sag te maak.<br /><br />
  • Neem een klein stap na vergifnis, al is dit net om op te hou om sleg oor hulle te praat.

Lees vorige dagstukke

Lees